Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 25 November 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons bekend maak dat die sleutels van twee radioamateurs onlangs stil geraak het. Hulle is:

Die van Mike Muir, ZS6MUI, vroeg Saterdagoggend 17 November.

Die ander is die van Buddy McCullen,ZS1MP. Hy was die houer van 'n Jack Twine Toekenning (1986) en 'n Willy Wilson Goue Wapen (1994).

Ons innige meegevoel gaan aan die afgestorwenes se familie en vriende en in die besonder aan Annie, die eggenote van Mike, ZS6MUI.

(POUSE).

IN DIE NUUS VANDAG:

ALLE RADIOAMATEURS MOET VIR HULLE LISENSIES HERAANSOEK DOEN

SARL-PADWYSER VIR REGULERINGSHERSIENING

5 MHz TOETSFREKWENSIES VIR VOORTPLANTINGSTUDIES

DIE 2013 SARL AJV

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

ALLE RADIOAMATEURS MOET VIR HULLE LISENSIES HERAANSOEK DOEN

Tydens die OKASA/SARL se skakelkomiteevergadering laasweek, het OKOSA die SARL in kennis gestel dat, as gevolg van 'n oudit deur die Ouditeurgeneraal, OKOSA opdrag ontvang het om Regulasie 15 van die Radiospektrumregulasies, wat bepaal dat 'n amateurradiolisensie alleenlik vir 5 jaar geldig kan wees, waarna 'n nuwe aansoek gedoen moet word, in werking moet stel.

Alle radioamateurs sal dus heraansoek moet doen vir 'n lisensie vir die tydperk 1 April 2013 tot 31 Maart 2018. Betaling vir die jaarlikse periode kan of jaarliks, of vir die 5 jaar ten volle vooruit betaal word. Laasgenoemde laat toe vir afslag.

Besonderhede sal in binne 'n paar weke in die Staatskoerant gepubliseer word. Moenie nou reageer nie. SARLNUUS sal alle besonderhede, prosedures en die nodige vorms daarna op www.sarl.org.za beskikbaar stel

Luister gereeld na SARLNUUS of besoek die webblad dikwels. Bykomende inligting sal op die web verskyn sodra dit beskikbaar kom.

SARL-PADWYSER VIR REGULERINGSHERSIENING

Die SARL sal die hervorming van regulasies met OKOSA op 3 Desember bespreek wanneer 'n skakelkomitee aangewys sal word om die kwessies met betrekking tot amateurradio te ondersoek. Die aanwysing is verkrygbaar op die SARL se webblad, kies “Amateur Radio Today” en volg die skakels.

5 MHz TOETSFREKWENSIES VIR VOORTPLANTINGSTUDIES

Hierdie proses het 'n stap verder gevorder tydens 'n vergadering verlede week. Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, werk saam met die OKOSA-personeellid in beheer van die spektrum, om ten minste 2 kanale vir voortplanting en deelgebruik te identifiseer. OKOSA het onderneem om die proses te bespoedig en het aangedui dat hulle verwag dat dit teen die einde van Januarie 2013 gefinaliseer sal wees.

Radioamateurs en kortgolfluisteraars kan behulpsaam wees deur die frekwensie tussen 5 250 en 5 450 MHz te moniteer. Huidige gelisensieerde stasies op die band het 5 kHz spasiëring. Besonderhede van die projek is beskikbaar op www.sarl.org.za, kies “Amateur Radio Today”.

NASA PHONESAT EN AMATEURRADIO.

Wetenskaplikes by NASA se Ames navorsingsentrum het die mees bekostigbare amateurradiosatelliet tot datum saamgestel. Amateur Radio Newsline bevat die volgende inligting: die $3 500 omsirkelende toestel is 'n Cubesat, die grootte van 'n koffiebeker, en maak gebruik van 'n "Nexus One" slim telefoon as sentrale verwerker tesame met 'n goedkoop van die rak af radio vir aardkommunikasie.

Dit heet die Phonesat 1 en die klein toestel sal teen die einde van hierdie jaar of vroeg aanstaande jaar vir lansering gereed wees. Die satelliet sal vir 10 dae, of tot die battery faal, foto’s van die aarde vanaf die ruimte op 'n amateurband uitstuur.

DIE 2013 SARL AJV

Dit is daardie tyd van die jaar dat die SARL begin voorberei vir die AJV.

Die AJV vir 2013 word deur die Wes-Rand Amateurradioklub aangebied en sal plaasvind op 27 April 2013 by die Nasionale Amateurradiosentrum.

Klubs en lede word daaraan herinner dat die sluitingsdatum vir mosies wat op die AJV bespreek moet word, 31 Januarie is.

Die Raad van die SARL versoek dat alle geaffilieerde klubs, 'n nominasie indien vir ten minste een raadslid. Dit beïnvloed nie die normale nominasieproses deur individuele lede nie. Dit is egter so dat die SARL-Raad baie werk het wat gedoen moet word en gewillige en energieke amateurs is hiervoor nodig. 'n Raadslid moet genomineer word deur 'n SARL-lid of geaffilieerde klub en gesekondeer word deur 'n lid of geaffilieerde klub. By die nominasie moet 'n kort CV van sy amateurradioloopbaan gaan, saam met sy getekende verklaring dat hy bereid is om as raadslid te dien. Raadslede moet verkieslik ervare amateurs wees wat enkele ure per week aan SARL-sake kan afstaan en wat per telekonferensie aan raadsvergaderings kan deelneem.

Daar is geen rede om te wag tot die laaste oomblik nie. Lê u nominasies en mosies nou voor.

KONTROLEER ASSEBLIEF U LIDMAATSKAPBESONDERHEDE

Die gerief en ekonomie van kommunikasie deur elektroniese media en die stygende pryse van slakkepos, veroorsaak dat die SARL in 'n toenemende mate van e-pos en SMS’e gebruik maak.

Om die SARL in staat te stel om met u te kommunikeer maak asseblief seker dat u kontakbesonderhede in die SARL se databasis korrek is. Dit sluit in u e-posadres, telefoon- en selfoonnommers, asook u posadres. U kan dit kontroleer deur u eie roepsein in die aanlynroepseinboek na te slaan en u kan ook die besonderhede daar bywerk. Dit werk vir alle rekords en dit is dus nie nodig om as 'n lid aan te teken nie.

Die databasis word weekliks bygewerk. Let daarop dat OKOSA nie veranderings in amateurs se kontakbesonderhede na die SARL toe deurgee nie. Dit is u verantwoordelikheid om u inligting by die SARL en by OKOSA op datum te hou.

Die Raad van die SARL wil lede wat geen e-posadres het nie, aanmoedig om een te bekom. Dit is maklik, goedkoop en gerieflik. Daar mag 'n tyd aanbreek wanneer die kommunikasie van sommige items per slakkepos net nie meer die moete werd sal wees nie en hulle slegs per e-pos oorgedra sal word.

U lidmaatskapbesonderhede kan ook gekontroleer word deur te gaan na: www.sarl.org.za/public/Membercheck.asp.

LIDMAATSKAPKAARTE

All lede met geldige e-posadresse in die SARL se databasis, sal by hierdie tyd per e-pos 'n lidmaatskapkaart en 'n kwitansie vir hulle lidmaatskapgelde ontvang het. Die kwitansie bevat ook die lid se wagwoord waarmee hy op die 'slegs lede' gedeelte van die webwerf kan aanteken. Lede sonder e-posadresse sal dieselfde inligting per slakkepos ontvang. As gevolg van die tyd wat die druk van adresetikette, die vul van koeverte ens. neem, sal dit 'n paar dae langer neem.

Lede word versoek om hulle e-posadresse op die SARL se databasis te kontroleer. Lede sonder e-posadresse word aangemoedig om een te bekom - dit is gerieflik, maklik en goedkoop. Self 'n e-posadres by 'n Internetkafee, sal heeltemal toereikend wees.

Lede wat gedrukte eksemplare van Radio ZS ontvang, sal 'n SARL plakker daarby ingesluit vind. Ander lede sal hulle plakkers per slakkepos ontvang. Gebruik asseblief die plakkers, die doel daarmee is om die sigbaarheid van die SARL te verhoog. Wees trots op u lidmaatskap.

NUWE LEDE

Die SARL verwelkom die 110 radioamateurs wat die 2012 RAE geslaag het, tot sy geledere. Al hierdie lede is nou tot die databasis toegevoeg en sal lidmaatskap hê tot aan die einde van Junie 2013.

Die webwagwoorde vir die nuwe lede is reeds aan hulle gestuur. Alle lede, maar veral nuwe lede, word daaraan herinner dat om die forum te gebruik, moet hulle afsonderlik vir die forum registreer.

KOMPETISIENUUS

RaDAR Kompetisieuitslae

Ware RaDAR

Niemand het die uitdaging as 'n operateur vir ‘Ware RaDAR’ aanvaar nie behalwe dat Eddie, ZS6BNE, voor die kompetisie vir 'n twee kilometer staptog gegaan het, maar nie sy toerusting saamgedra het nie.

Veld/Mobiele stasie.

Tienie, ZS6MHH - 276 punte
Eddie, ZS6BNE - 192 punte
Peter, ZS6IQ (Maritieme mobiele) - 144 punte

Vaste Stasie.

Geen

Ten spyte van die min deelnemers, is die algemene mening dat die kompetisie steeds twee keer per jaar aangebied moet word. Daar sal veranderings aan die reëls aangebring word wat dit opwindend sal maak vir iedereen wat die uitdaging wil aanvaar.

Die SARL Digitale Kompetisie

Hierdie kompetisie sal op die 2de Desember 2012 plaasvind, en nie die 25ste November 2012 nie.

Verskoning vir die verwarring.

Registrasie met die LoTW

As U nie reeds by die LOTW (Logbook of the World) geregistreer is nie, maar graag wil registreer, stuur 'n afskrif van jou lisensie en ID aan Geoff Levey, ZS6GRL, na hfmanager@sarl.org.za. As jy nie in besit is van jou lisensie nie, kontak OKOSA vir 'n brief wat bevestig dat jou lisensie wel betaal is, dit sal ook aanvaar word.

Die proses duur ongeveer 2 dae.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit aan die afneem is. Sonvlek AR1618 het begin verval maar sy magneetveld huisves nog genoeg energie vir X-klas sonfakkels.

'n Sonvlek is 'n reuse eiland van magnetisme wat op die son se oppervlak dryf. Magnetiese velde borrel op vanuit diep binne die son om die sonvlekke se donker kerns te vorm, baie soos 'n eiland wat deur 'n onderseese vulkaan gevorm word.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 71.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan ook gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

01 Desember - Wes-Rand se snuffelmark begin om 12:00.
02 Desember - Die SARL Digitale Kompetisie.
31 Januarie 2013 – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir Raadslede vir die volgende termyn en mosies vir die 2013 AJV.
SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Louis de Bruin, ZS5LP, en dit is saamgestel deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003